Die kostes ten opsigte van ‘n begrafnis of verassing kwalifiseer as geldige eise teen ‘n boedel en behoort dus as ‘n eis teen die boedel genoteer te word.
In die verlede was begrafnisondernemers bereid om die diens te verskaf en die begrafnis- of verassingkostes word dan as eis teen die boedel noteer om vereffen te word sodra die Eksekuteur formeel aangestel is, en dus toegang tot boedelfondse kan verkry.
Weens die tydsverlope met Eksekuteursaanstellings en ook die vertragings wat ondervind word met die sluiting van bankrekeninge, was begrafnisondernemers met verstaanbare redes genoodsaak om daarop aan te dring dat die begrafnis- of verassingskostes onmiddellik en voor die uitvoering van die begrafnisdiens vereffen word.
Normaalweg word die kostes dan deur die familie of ‘n familielid vereffen en word die kostes dan as eis teen die boedel genoteer om vereffen te word sodra fondse beskikbaar is.
Dit skep uiteraard probleme indien die familie nie oor sodanige befondsing beskik nie, maar Artikel 11 van die Boedelwet (Wet 66 van 1965) bepaal wel duidelik dat al was ‘n Eksekuteur nog nie formeel aangestel en indien ‘n oorledene oor fondse besik, ‘n finansiële instelling by magte is om fondse aan die oorledene se familie beskikbaar te stel om aan hom ‘n behoorlike begrafnis te besorg.
Daar is soms verwarring dat dit ook die Eksekuteur se plig is om begrafnisreëlings te tref.
Alhoewel die Eksekuteur soms die familie behulpsaam is om reëlings rondom die begrafnis te tref, is dit beslis nie een van die Eksekuteur se pligte nie en in meeste gevalle raak die Eksekuteur eers betrokke by die administrasie van die boedel nadat die begrafnis afgehandel is.
Indien die boedel aanspreeklik is vir Boedelbelasting is dit ook belangrik om kennis te neem dat slegs die begrafniskoste (begrafnis of verassing) en die kostes van ʼn grafsteen of ʼn nis as toelaatbare eise teen die boedel sal kwalifiseer.
Ander kostes, byvoorbeeld telefoon- en verblyfkoste, reiskostes van die familie en die koste van die begrafnisverversings en pamflette, kan nie geëis word nie.
Met enige navrae, kontak asb. vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za