7 April het ons kantoor se personeel die personeel van BGR De Villiers Ingelyf op die krieketveld aangedurf. Daar was mans en dames spanne wat deelgeneem het. Die dames was eerste aan die beurt en die Paarl kantoor het hier met die wen weggestap. Die mans het egter ons kantoor se ere herstel en het met ‘n oortuigende 36 lopies die wen verseker. Baie dankie aan al die spelers wat die dag met goeie gees aangedurf het en dankie ook aan die ondersteuners wat die moeite gedoen het om Paarl toe te gaan om die spanne te ondersteun. Ons glo almal het die dag geniet.
Ons is dankbaar dat die personeel veilig tydens die Paasseisoen gereis het. Ons vertrou almal het nou weer nuwe krag vir die res van die jaar.
Joanne Els (Salarisse en Lone Administrateur) het aan die Two Oceans marathon deelgeneem en in goeie tyd klaargemaak. Veels geluk Joanne.
Marinda Mostert het op 18 April 2017 by die Salarisse en Lone Afdeling as Administrateur aangesluit. Prudence Small verlaat die Afdeling op 4 Mei. Ons beste en mooiste wense vergesel Prudence vir haar nuwe tuisdorp en pos.
Marius Kotzé, Direkteur, gaan die naweek van 5 Mei as deel van die WP se span deelneem aan die SA Jaggeweer Skietvereniging se SA Ope. Ons vertrou hulle behou die skild in die spanskiet afdeling. Sterkte Marius.
Op 12 Mei het ons kantoor ‘n spanbou sessie. Tydens hierdie sessie word vaardighede ontwikkel sodat die personeellede sekere uitdagings in die werksplek en in die lewe as geheel met groter sukses kan hanteer.
26 Mei neem die personeel deel aan Tekkie Tax waar ons tekkies dra en in die proses ‘n bydrae maak tot mense met gestremdhede.