Op 12 Februarie 2018 was Morell Links (Rekeningkundige klerk) met ‘n Ooievaarstee verras. Morell en Justin verwag binnekort hul eerstelingdogtertjie, genaamd Jade.
Op 19 Januarie 2018 het ons die Afskopbraai gehad waartydens almal terug verwelkom is en waar die Nuwe Jaar ingewy is. Die nuwe kollegas wat deur die loop van verlede jaar en die begin van hierdie jaar by ons aangesluit het, was vir die reëlings verantwoordelik en dit was voorwaar ‘n vreugdevolle samesyn.
Die Besigheidsliga van die krieket is weer aan die gang. Die manne draf in hulle nuwe hemde uit en ons vertrou dat die liga ‘n suksesvolle een sal wees.
Cobus Greeff, wat hierdie jaar as Rekenmeester by ons kantoor aangesluit het, het op 28 Januarie aan die Half-Ysterman in Oos-Londen deelgeneem. Die totale afstand van die kompetisie was 113 km (Swem: 1.9 km, Fietsry: 90 km, Hardloop: 21.1 km). Veels geluk aan Cobus wat vir sy eerste keer in so ‘n goeie tyd klaargemaak het.
Op 7 en 15 Februarie is ons twee spanne wat deelneem aan die jaarlikse Besigheidsliga van die Rolbalklub. Die wedstryde begin 18h00 en ondersteuners is welkom.
Valentynsdag is 14 Februarie en oudergewoonte sal ons kantore in rooi getooi word. Ons nuwe Sosiale komiteelede, wat onlangs verkies is, sal hiervoor verantwoordelikheid aanvaar.
Ons kantoor is deurentyd met waterbesparing besig en nuwe voorstelle word binnekort geïmplementeer. Ons moedig alle besighede aan om water optimaal te spaar.