Op 16 April 2018 het die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) ʼn nuwe inisiatief aangekondig waar daar voorts saam met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) gefokus gaan word om belastingbetalers wat versuim om hul opgawes in te dien, te vervolg.
In terme van die Wet op Belastingadministrasie en die Belasting op Toegevoegde Waarde (BTW) Wet, is dit ʼn kriminele oortreding om nie inkomstebelasting en BTW opgawes in te dien nie en kan belastingbetalers wat skuldig bevind word, ʼn kriminele rekord opdoen.
Die nuwe veldtog verteenwoordig ʼn verskerping van die SAID se uitstaande opgawe bewusmakingsveldtog, wat einde 2017 geloods is.
Volgens die SAID is daar oor die afgelope paar jaar ʼn onaanvaarbare toename in die nie-indiening van belastingopgawes ervaar, insluitende persoonlike en korporatiewe inkomstebelastingopgawes, sowel as BTW en LBS vorms.
Na raming was daar aan die einde van Maart 2018 reeds 30 miljoen opgawes verskuldig aan die SAID. In baie gevalle is daar veelvuldige uitstaande belastingvorms per belastingbetaler van toepassing.
Die SAID sien hierdie nie-nakoming in ʼn baie ernstige lig en het gevolglik, as ʼn laaste uitweg, besluit om oor te gaan na kriminele vervolging. Daar is reeds 36 dossiere deur die SAID aan die NVG oorhandig.
Voordat belastingbetalers oorhandig word en voor die hof gedaag word, sal hul eers ʼn finale aanmaning kry, wat hul ʼn laaste geleentheid sal bied om hul belastingsake in orde te kry. Vonnisse wat die hof kan oplê sluit in boetes sowel as tronkstraf tot en met 2 jaar.
Tussen 16 en 20 April 2018 het daar alreeds agt sake voor die howe gedien in Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal, wat verband hou met honderde uitstaande opgawes.
Die Minister van Finansies, Nhlanhla Nene, het ook onlangs hierdie probleem aangespreek gedurende sy 2017/2018 belastinginkomste invorderingsyfer toespraak en dit uitgelig as een van die sleutelprobleme wat tans deur die SAID ervaar word.
Dit is dus van kardinale belang dat belastingbetalers, wie agterstallig is met hul belastingverpligtinge, so gou as moontlik hul sake op datum kry om moontlike kriminele vervolging, onnodige regskoste en ander sanksies vry te spring.
Vir verdere navrae kontak gerus vir Petri Westraadt by FHBC se belastingafdeling by pwestraadt@fhbc.co.za.
Source Reference
- Wet op Belasting op Toegevoegde Waarde No. 89 van 1991
- Wet op Belastingadministrasie No. 28 van 2011
- http://www.sars.gov.za/Media/MediaReleases/Pages/16-April-2018—SARS-NPA-to-prosecute-taxpayers-for-outstanding-returns.aspx