Die maksimum eksekuteursfooi wat gehef kan word, is 3,5% (BTW uitgesluit) en word deur wetgewing gereguleer.
Hierdie fooi kan uiteraard met die genomineerde Eksekuteur onderhandel word, maar die hoeveelheid werk wat gedoen moet word om die administrasie van boedels af te handel, word meestal onderskat en die voorgeskrewe tarief is in baie gevalle realisties en billik.
Hou egter ook in gedagte dat ‘n eksekuteur wat testamentêr benoem word onder geen verpligting is om oor die eksekuteursvergoeding te onderhandel nie en geregtig sal wees op die volle vergoeding wat in terme van wetgewing bepaal word.
Dit is dus raadsaam om reeds op die stadium waar u testament opgestel en boedel beplan word, die eksekuteursvergoeding met u gekose eksekuteur te onderhandel en in u testament vas te maak.
Eksekuteurvergoeding word gehef op die bruto waarde van die oorledene se boedel, wat alle eiendom insluit wat die oorledene ten tyde van afsterwe besit het, of wat in sy/haar naam geregistreer was.
In gevalle waar die oorledene en langslewende gade binne gemeenskap van goedere getroud was, sal die totale bruto waarde van die eerssterwende en langslewende se boedels as boedelbates ingesluit word en eksekuteursvergoeding sal op die totale waarde van albei partye se boedels gehef word.
Dit is dus ook belangrik om daarop te let dat laste wat ten tyde van afsterwe bestaan het, nie eers teen die boedelwaarde verreken word en eksekuteursvergoeding dan op die netto waarde gehef word nie.
Daar is wel sommige bates wat nie eksekuteursgelde lok nie, soos bv.:
- Versekeringspolisse met ‘n begunstigdebenoeming (tensy die polis aan die boedel betaal word);
- Pensioensfondsvoordele; en
- Annuiteitsfondse.
Dit is dus belangrik om korrek te beplan vir die dood, deeglike oorweging te gee aan wie u as eksekuteur benoem, indien moontlik die eksekuteursvergoeding met u gekose eksekuteur te onderhandel en ook te verseker dat daar genoegsame likiditeit in u boedel is om eksekuteursvergoeding en ander eise en laste teen die boedel te dek, sonder om bates te verkoop.
Boedelbeplanning is noodsaaklik vir opvolgbeplanning en moet omvattend saamgestel word met ‘n volledige finansiële plan en ‘n testament.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za