In Deel 3 van ons reeks oor kontrakte kyk ons na Fynskrif in kontrakte, sowel as na die Wet op Verbruikersbekerming, patente en latente gebreke en in kort na die konsep van “voetstoots”.
Meeste van ons het al gekontrakteer met ondernemings vir onder andere versekering, huurkoop van of die huur van ‘n voertuig. Oor die algemeen is hierdie tipe ooreenkomste in baie fyn, klein skrif gedruk op ‘n minimum hoeveelheid bladsye en is die terme en voorwaardes amper onleesbaar klein en tegnies baie gekompliseerd.
By ondertekening van so ‘n ooreenkoms sal die onderneming se verteenwoordiger ook meestal net in kort ‘n oorsig gee van die belangrike aspekte van die ooreenkoms sonder om in die detail van die ooreenkoms in te gaan.
Die algemene reël in ons reg is dat wanneer u ‘n ooreenkoms onderteken het, u geag word uself te vergewis het van die inhoud daarvan en gebind is tot die terme en voorwaardes van die ooreenkoms.
Daar blyk ‘n nuwe ontwikkeling te wees wat sekere uitsonderings op hierdie reël teweeg bring en het dit duidelik aan die lig gekom in die uitspraak in die Rattan-saak. Die agtergrond van hierdie saak is omvattend en kan nie volledig hierin uiteegesit word nie. Die crux van die saak is egter dat ‘n persoon ‘n kontrak vir die “huur/gebruik” van ‘n motor aangegaan het, sonder om die geheel van die kontrak te lees en sonder om die volledige ooreenkoms in die hand te kry. Nadat die voertuig beskadig is in ‘n insident waarin die persoon ook oorlede is, het die onderneming skadevergoeding geëis van die boedel van die oorledene. Gedurende die daaropvolgende hofsaak wat gevolg het, het Regter Pillay gesê dat die skrif op die ooreenkoms so klein was dat hy dit selfs met die hulp van ‘n vergrootglas, moeilik gevind het om te lees. Verder was die inhoud omslagtig en baie tegnies en moeilik om te verstaan. Hier is die eis van die onderneming van die hand gewys.
Die Hof het ook na die toepaslikheid en beskerming gekyk wat die Wet op Verbruikersbeskerming aan verbruikers bied. In kort is daar bevind dat wanneer daar gekyk word na die afdwingbaarheid van kontrakte, die verpligting wat daar is op ondernemings om met verbruikers in goeie trou te onderhandel en te kontrakteer, in ag geneem moet word. Goeie trou reflekteer die gemeenskap se begrip van gelykheid, regverdigheid en redelikheid. Openbare beleid vereis dat die afdwingbaarheid van ooreenkomste gemeet moet word aan die hand van die waardes soos vervat in die Grondwet.
In hierdie aangeleentheid het die Hof bevind dat ‘n onleesbare en ingewikkelde regsdokument nie ‘n geldige ooreenkoms daargestel het tussen die partye nie. In sekere omstandighede dus, waar die skrif in die ooreenkoms klein en onleesbaar is en tegnies baie gekompliseerd is, kan dit moontlik daartoe aanleiding gee dat ‘n ooreenkoms ongeldig kan wees. Natuurlik sal enige oorweging in die verband afhang van die spesifieke omstandighede van die geval en sal slegs in uitsonderlike gevalle toepassing vind.
Dit is uiters belangrik om egter bewus te wees daarvan dat die reël bly staan: u handtekening op ‘n dokumente verbind u daartoe, en verbruikers moet kennis neem daarvan dat hulle baie versigtig moet wees by die aangaan van enige ooreenkoms waarvan hulle nie die geskrewe gedeeltes met gemak kan lees of verstaan nie. Dit is u reg om te vra dat die inhoud aan u verduidelik word of dat alternatiewe dokumente tot u beskikking gestel word sodat u deeglik bewus is van die omvang van die ooreenkoms wat u beoog om aan te gaan.
Daar is spesifieke Eenvoudige Taal-regulasies in die Wet op Verbruikersbeskerming vervat en is primêr daarop gemik om verbruikers te beskerm teen die ondertekening van dokumente wat hulle nie verstaan nie. Die Wet se uitdruklike doel is om seker te maak dat verbruikers nie onbillik behandel word nie.
Wanneer daar gepraat word van die koop en verkoop van voertuie, veral tweedehandse voertuie hoor ons gereeld die terme latente en patente gebreke en voetstoots. Wat presies word onder hierdie begrippe verstaan en bied die Wet op Verbruikersbeskerming hier enige beskerming aan die verbuiker?
Patente gebreke is ooglopende gebreke soos byvoorbeeld krappe of duike aan die voertuig en is gebreke wat met ‘n geredelike ondersoek van die voertuig maklik opgemerk kan word. Enige onderhandeling met betrekking tot prys aanpassings op die voertuig as gevolg van die gebreke, moet geskied voor afhandeling van die transkasie, aangesien die koper nie na die aangaan van die ooreenkoms, na die verkoper kan terugkom vir enige vergoeding ten opsigte van ‘n patente gebrek aan ‘n voertuig nie.
Latente gebreke is gebreke of wesenlike foute op ‘n voertuig wat nie ooglopend is nie, wat nie maklik opmerkbaar sal wees met ‘n geredelike ondersoek nie en wat slegs sigbaar/opmerkbaar sal wees met ‘n baie deeglike ondersoek van die voertuig.
Waar ‘n koper van ‘n voertuig ‘n latente gebrek opmerk kan hy gedeeltelike terugbetaling en/of skadevergoeding van die verkoper eis ten opsigte van die latente gebrek, maar die gebrek moes ten tyde van die aangaan van die koopooreenkoms reeds bestaan het en die koper moes onbewus gewees het van die gebrek.
‘n Verkoper kan homself natuurlik beskerm teen latente gebreke en die moontlike verlies wat dit vir hom kan inhou deur ‘n uitdruklike uitsluitingsklousule te voeg tot die terme van die ooreenkoms tussen hom en die koper en die voertuig as “voetstoots” te verkoop. ‘n Verkoper mag homself egter slegs op die beskerming van ‘n “Voetstoots” klousule beroep indien hy wel nie bewus is van enige latente gebreke op die voertuig nie. Sou hy bewus wees van enige latente gebreke en dit nie aan die koper openbaar nie, maak hy ‘n wanvoorstelling en kan hy skuldig wees aan bedrog.
Die Gemene Reg bied bogemelde beskerming aan kopers waar hetsy ‘n latente of patente gebrek by goedere teenwoordig is.
Met die inwerkingtreding van die Wet op Verbruikersbeskerming is daar spesifieke beskerming vir verbruikers ingevoer wat betref die aankoop van voertuie van motorhandelaars. Daar is ‘n omvattende uiteensetting in die Wet van die regte en verpligtinge van die partye tot ‘n koop transaksie van ‘n motorvoertuig en die beskerming wat die verbruiker geniet.
Artikel 2 Gedeelte H van die Verbuikersbeskermingswet handel spesifiek oor die fundamentele regte van die verbruiker ten opsigte van billike waarde, goeie kwaliteit en veiligheid van aangekoopte produkte. Die Wet het ‘n noemenswaardige verandering in die gemeenregtelike posisie teweeg gebring wat betref latente defekte. Maar…let daarop dat die Wet slegs van toepassing is in gevalle waar transaksies en ooreenkomste aangegaan word tussen vervaardigers, verskaffers, verspreiders, invoerders, handelaars en tussengangers aan die een kant, en verbruikers aan die ander kant.
Die Verbruikersbeskermingswet is nie van toepassing in die volgende gevalle nie:
- eenmalige transasksies;
- waar die verbruiker ‘n regspersoon is met ‘n batewaarde of jaarlikse omset soos van tyd tot tyd bepaal mag word deur die Minister van Handel en Nywerheid;
- waar goedere en dienste nie voorsien word in die normale verloop van besigheid nie.
In gevalle waar daar eenmalige transaksies tussen privaat persone plaasvind, wat buite die trefwydte van die Verbruikersbeskermingswet val, is die Gemene Reg en gemeenregtelike remedies en aksies steeds van toepassing en tot die beskikking van ‘n persoon waar daar ‘n verbreking van ‘n waarborg ten opsigte van enige latente defekte is.
Dus, waar daar ‘n verkoopsooreenkoms tussen twee privaat individue is vir byvoorbeeld ‘n voertuig, is die Verbruikersbeskermingswet nie van toepassing nie en sal die gemeenregtelike posisie geld soos bo vermeld.
Vir vrae oor die toepassing van en verdere inligting ten opsigte van die Verbruikersbeskermingswet kan u navrae rig aan lorraine@fhbc.co.za.
Source Reference:
Four Wheel Drive Accessory Distribution CC v Rattan NO (6916/13) [2017] ZAKZDHC; 2018 (3) SA 204 (KZD) (4 July 2017) Wet op Verbruikersbeskerming, Wet Nr 68 van 2008.