Wanneer die aparte boedels van gades by die afsterwe van die eerssterwende saamgevoeg word om as een gemeenskaplike boedel verdeel te word, vind samesmelting plaas. Dit beteken dat twee persone met ‘n gesamentlike testament hul totale afsonderlike boedels of sommige van hul bates mag saamsmelt om die effek te hê dat die totale belang in die spesifieke bates by afsterwe van die eerssterwende kan vererf.
Indien kliënte sou kies om hulle bates of sommige van hulle bates saam te smelt, moet daar duidelik in die Testament bepaal word dat samesmelting moet plaasvind en watter bates saamgesmelt moet word.
Indien samesmelting oor slegs sekere bates plaasvind, verwys ons daarna as gedeeltelike samesmelting.
Die langslewende behoort ook ‘n voordeel te ontvang uit die bates wat saamgesmelt word, gewoonlik ‘n vruggebruik en is die skepping van ‘n beperkte reg (bv. vruggebruik) ten gunste van die langslewende ‘n vereiste vir die Testament om te voldoen aan samesmelting.
Die grootste voordeel van samesmelting is dat daar by afsterwe van die eerssterwende beskik kan word oor ‘n bate waarin die eerssterwende en langslewende ‘n belang gehou het, in plaas daarvan dat daar eers by die langslewende se afsterwe met sy/haar belang gehandel kan word.
Adiasie en repudiasie is begrippe wat gewoonlik geassosieer word met die samesmelting van die boedels van twee mense (normaalweg getroud binne ‘n gemeenskap van goedere).
Wanneer ‘n Testament voorsiening maak vir samesmelting of gedeeltelike samesmelting het die langslewende die keuse om die bepalings van die Testament te aanvaar (adiasie) of te verwerp (repudiasie).
Met aanvaarding, aanvaar die langslewende die bepalings van die Testament en stem toe tot die samesmelting van sy/haar belang in ‘n bate(s) met die eerssterwende se bates.
Indien die langslewende die bepalings van die Testament verwerp, sal dit beteken dat sy/hy nie toestemming verleen tot samesmelting nie.
In die geval van ‘n huwelik binne gemeenskap van goedere sal dit beteken dat die langslewende (indien hy/sy sou verkies om te repudieer) slegs sy/haar belang in die boedel weens die huwelik binne gemeenskap van goedere behou en alle ander voordele wat hy/sy kragtens die Testament sou ontvang, sal verbeur.
Hierdie artikel handel net met die basiese betekenis van die onderskeie terme en ons sal in verdere artikels die implikasies van samesmelting met verwysing na skenkingsbelasting, kapitaalwinsbelasting en hereregte bespreek.
Kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za indien u enige navrae het.