In 1989 het die Wet op die Beheer oor Trustgoed (Wet Nr 57 van 1988) in werking getree. Hierdie wetgewing is ingestel om die basiese beginsels van Trusts en Trust-konsepte te omskryf en te definieer aangesien daar ‘n leemte in daardie opsig in ons regstelsel rondom Trusts bestaan het en die hoofdoel van hierdie Wet is om die basiese administratiewe aspekte van Trusts te reguleer. Die Wet gee ook sekere magte en bevoegdhede aan die Meester van die Hoë Hof om die administrasie van Trusts en die regte en verpligtinge van trustees te oorsien.
Een van die belangrikste ontwikkelings in die Trustreg sedert die inwerkingtreding van die Wet op die Beheer oor Trustgoed was die uitspraak wat in die Hoogste Hof van Appèl gegee is in die saak van Land and Agricultural Bank of South Africa v Parker and Others (2005 (2) SA 77 (SCA)).
In hierdie uitspraak was die Regters eenparig van mening dat die Trust as regsverskynsel in vele gevalle misbruik word en is die Trustreg uitgebrei deur sekere gevestigde beginsels van Maatskappyreg ook van toepassing te maak in Trustreg. So is die beginsels van “lifting the corporate veil” toegepas in die saak en so ingevoer in die Trustreg. Verder het die Hof dit duidelik gemaak dat groter en meer onafhanklike beheer oor die trustgoedere van ‘n Trust noodsaaklik is en het dit aanleiding gegee tot die vereiste dat die aanstelling van ‘n ONAFHANKLIKE TRUSTEE in sekere gevalle as ‘n verpligte vereiste deur die Meester van die Hoë Hof gestel word.
DIE PARKER SAAK
Soos bo genoem was een van die belangrikste onlangse verwikkelinge in ons trustreg die uitspraak wat gegee is in die Parker saak. Ons beveel aan dat enigeen wat betrokke is by Trusts of dien as trustees, of selfs die begunstigde in ‘n Trust is, die uitspraak in hierdie saak in geheel lees.
In terme van hierdie belangrike beslissing moet trusts aan die volgende vereistes voldoen:
- Die minimum beperking op die aantal trustees wat in die amp moet dien, in terme van die bepalings van die trustakte, moet gevolg word ten einde regsgeldigheid aan besluite en regshandelinge deur die trustees daar te stel;
- ‘n Onafhanklike persoon moet as trustee aangestel word in gevalle waar die trustee(s) ook bevoordeeldes van die trust is en waar die trustee(s) en begunstigdes deur ‘n familieverbintenis aan mekaar verwant is.
Die Hof het in die Parker saak verskeie belangrike trustreg en praktyk beginsels benadruk.
‘n Trust beskik nie oor regspersoonlikheid nie. ‘n Trust is ‘n “versameling” of “samevoeging” (accumulation) van bates en laste wat die trustboedel daarstel. Die regsbevoegdheid vestig in die trustees. Die trust kan slegs handel deur die trustees soos gespesifiseer in die trustakte. Die trustees, wie hulle is, hoeveel hulle moet wees, die omstandighede waaronder hulle oor die bevoegdheid beskik om die trustboedel te bind, word voorgeskryf deur die trustakte. Die trustees beskik nie oor die bevoegdheid om die trustboedel te bind buite die voorskrifte van die trustakte nie. By gebrek aan magtiging in die trustakte, moet die trustees gesamentlik handel. ‘n Subminimum van trustees kan nie die trust bind nie. Indien die trust ‘n minimum hoeveelheid trustees voorskryf, stel dit ‘n kapasiteitsvereiste daar en kan die trustees, indien hulle minder in getal is as die minimum vereiste gestel, nie die trustboedel bind nie. Dit beteken nie die trust hou op om te bestaan nie, die trustees beskik in so ‘n geval nie oor die nodige bevoegdheid om enige regsgeldige handelinge namens die trustboedel aan te gaan nie. Tensy die trustakte spesifiek anders bepaal, moet die trustees te alle tye gesamentlik handel. Indien die akte dus swyg oor of die trustees gesamentlik of afsonderlik kan handel in sekere omstandighede, sal die reël wees dat trustees te alle tye gesamentlik moet handel. Die reël spruit voort uit die beginsel dat die trustees gesamentlike eienaars van die trusteiendom is (nie in persoon nie, maar uit hoofde van die amp).
Die Hof het dit nodig geag om na aanleiding van die feite van die Parker saak, spesifiek sekere opmerkings te maak oor die misbruik van die trust verskynsel.
Die Hof het melding gemaak daarvan dat die grondslag van die trust-idee, die skeiding van en die onderskeid tussen eienaarskap van bates en reg van gebruik en genot ten opsigte van die bates is. Alhoewel ‘n trustee ook ‘n begunstigde van die trust kan wees, is die primêre idee dat die bates toevertrou word aan ‘n derde persoon wat beheer daaroor uitoefen in die plek van en in die belang van ‘n ander of ander persone. Die grondslag van, en die ontwikkeling van die amp van ‘n trustee is en bly, dat die trustee die amp van trustee aanvaar om ‘n fidusiêre plig oor die trustbates uit te oefen, in die plek van en in die belang van ander.
Die Hof verwys na sake waarin hierdie belangrike aspek by herhaling bevestig is, sedert so vroeg as 1915 en die Hof bevestig dus weer in hierdie uitspraak dat die noodsaaklike beginsel van die trustreg vas staan, en dit is dat die gebruik en genot van bates, en die beheer oor bates, funksioneel apart van mekaar moet staan.
Die hof beklemtoon dat die laasgenoemde onderskeid, onafhanklike oordeel aan die kant van die trustee verseker.
Die hof benadruk dan ook in sy uitspraak dat hierdie onderskeid oor die laaste paar jaar begin vervaag het, veral in die geval van familie besigheidstrusts, waar in sekere gevalle, soos in die Parker saak, daar ‘n totale gebrek is aan die onderskeid tussen die gebruik en genot van die trustbates, en die beheer oor sodanige bates.
Die vraag is dan waarom is hierdie onderskeid so belangrik? Buitestaanders wat met die trust besigheid doen, het die reg om hulle eie belange te beskerm. Waar so ‘n gebrek aan onafhanklike trustee beheer oor bates bestaan, is daar ‘n daadwerklike risiko dat die trustees buite hulle bevoegdheid sekere regshandelinge kan aangaan tot nadeel van die buitestaanders. Waar sodanige trustees dan ook begunstigdes is, beteken dit dat hulle die basiese beginsels van die trustreg verontagsaam en sonder die nodige sorg en vertroue optree. Die skeidslyn tussen reg op gebruik en genot en die beheer oor bates vervaag en verdwyn in geheel in sekere gevalle, in verontagsaming van die fidusiêre plig wat in terme van die trustreg aan die amp van trustee kleef.
Die hof meld dat hierdie ongewenste posisie wetgewende regstelling vereis, maar dat die howe en die Meester nie magteloos is om die ongewenste situasie aan te spreek nie en dat dit hulle plig is om misbruik te beperk en te voorkom.
Die hof verwys na die Meester se bevoegdhede soos verleen deur die Wet waar die Meester dan oor die bevoegdheid beskik om trustees aan te stel waar ‘n trustakte nie voorsiening maak daarvoor nie, of om mede-trustees aan te stel in sekere gevalle waar die Meester dit na goeddunke verwag, en dat die Meester dus in die uitoefening van hierdie bevoegdhede ‘n statutêre bevoegdheid het om genoegsame onderskeid van genot en beheer oor bates in ‘n trust daar te stel deur daarop aan te dring dat ‘n onafhanklike buitepersoon as trustee aangestel moet word in elke geval waar al die trustees ook begunstigdes is en/of waar die trustees en die begunstigdes verwant is aan mekaar.
Nadat die uitspraak in die Parker saak gegee is, het die Meester inderdaad die opmerkings van die Regters ter harte geneem en die nodige direktiewe begin rig ten einde te verseker dat onafhanklike trustees aangestel word op die trusts waar dit nodig geag word.
In die Meestersdirektief 2 van 2017, word daar dan bepalings neergelê dat die Meester van die Hoë Hof die aanstelling van onafhanklike trustees moet oorsien en moet die Meester die aanstelling van ‘n onafhanklike trustee oorweeg wanneer ‘n trust vir die eerste keer by die Meester geregistreer word en dit blyk dat sodanige trust ‘n ‘’familie besigheidstrust” is. Die Meester kan ook aandring daarop dat ‘n onafhanklike trustee op ‘n bestaande trust bykomend aangestel word, indien dit ‘n familiebeisigheidstrust is, en daar nie so ‘n aanstelling reeds gedoen is nie.
Vir die doeleindes van die direktief van die Meester, word ‘n “familie besigheidstrust” geag ‘n trust te wees met die volgende gekombineerde karaktereienskappe:
- Die trustees beskik oor die bevoegdheid om met onafhanklike derde partye te kontrakteer en kan dus sodoende trust skuldeisers daarstel;
- Die trustees is almal ook begunstigdes van die trust;
- Die begunstigdes is almal verwant aan mekaar.
Die onafhanklike trustee moet ‘n onafhanlike buitestaander wees, met ‘n behoorlike besef van die verpligtinge van trusteeskap, en wat die amp van onafhanklike trustee aanvaar om sodoende te verseker dat die trust na behore funksioneer en dat die voorskrifte van die trustakte nagekom word. Daar moet geen familieverhouding of verbintenis (deur bloed of andersins), wees ten opsigte van enige van die ander bestaande of voorgestelde trustees, begunstigdes of oprigter van die trust nie.
Uit die bogemelde, en na aanleiding van al die inligting wat hierin vervat is, is dit baie duidelik dat daar inderdaad ‘n vereiste is vir die aanstelling van onafhanklike trustees en waarom dit dan ‘n vereiste is, veral in die geval van familie beidheidstrusts. Daar word totale onafhanklikheid en ‘n baie groot mate van sorg, kennis, vernuf en kundigheid van ‘n onafhanklike trustee verwag en daar word van die onafhanklike trustee verwag om sy fidusiêre plig met erns en integriteit na te kom.
Indien u enige verdere inligting verlang of navrae sou hê in verband met die aanstelling van of ampsvervulling deur die onafhanklike trustee, kan u Adv. Lorraine Oosthuysen kontak by lorraine@fhbc.co.za.