Ons ervaring is dat daar ‘n wanopvatting bestaan dat indien ‘n erfgenaam van sy/haar erfenis afstand doen, die erfenis die oorblywende erfgename toeval.
Indien ‘n oorledene egter testaat of intestaat te sterwe sou kom en die testate of intestate erfgename verkies om afstand te doen van hul reg op die erfenis, word die bepalings van Artikel 2C (1) en (2) van die Wet op Testamente 7 van 1953 of Artikel 1 (6) en (7) van die Wet op Intestate Erfopvolging 81 van 1987, toegepas.
Die betrokke gedeeltes lees soos volg:
Afdeling 2C. Langslewende gade en afstammelinge van sekere persone wat ingevolge testament op voordele geregtig is. –
(1) Indien enige afstammelinge van ‘n erflater, uitgesonderd ‘n minderjarige of geestesongestelde afstammeling, wat saam met die oorlewende gade van die erflater op ‘n voordeel ingevolge ‘n Testament geregtig is, afstand doen van sy reg om sodanige voordeel te ontvang, vestig sodanige voordeel in die oorlewende gade.
(2) Indien ‘n afstammeling van die erflater ingevolge die bepalings van ‘n testament, hetsy as ‘n lid van ‘n klas of andersins, ten tyde van die dood van die erflater op ‘n voordeel geregtig sou gewees het indien hy geleef het, of nie onbevoeg was om te erf nie, of nie na die erflater se dood afstand gedoen het van sy reg om so ‘n voordeel te ontvang nie, dan is die afstammelinge van daardie afstammeling, behoudens die bepalings van subartikel (1), staaksgewyse geregtig op die voordeel, tensy dit uit die samehang van die testament anders blyk.
Artikel 1. Intestate Erfopvolging
(6) Indien ‘n afstammeling van ‘n oorledene, uitgesonderd ‘n minderjarige of geestesongestelde afstammeling, wat saam met die oorlewende gade van die erflater op ‘n voordeel uit ‘n boedel geregtig is, afstand doen van sy reg om so ‘n voordeel te ontvang, vestig sodanige voordeel in die oorlewende gade.
(7) As ‘n persoon onbevoeg is om ‘n erfgenaam van die intestate boedel van die oorledene te wees, of afstand doen van sy reg om so ‘n erfgenaam te wees, sal enige voordeel wat hy sou ontvang indien hy nie so gediskwalifiseer is nie of nie afstand gedoen het van sy reg nie, onderhewig aan die bepalings van subartikel (6), beskou word asof hy onmiddellik voor die dood van die oorledene gesterf het en, indien van toepassing, asof hy nie so gediskwalifiseer is nie.
Waar Persoon X byvoorbeeld intestaat te sterwe kom en hy ‘n huweliksmaat en drie kinders agterlaat wat sy intestate boedel gesamentlik erf en die kinders afstand doen van hul erfporsie, sal sodanige erfporsie hul moeder toeval.
Waar Persoon X egter intestaat of testaat te sterwe kom en hy/sy slegs kinders agterlaat, en slegs sommige van die kinders afstand doen van hul erfporsie, sal sodanige kind se erfenis slegs die oorblywende kinders toeval, indien die kind(ers) wat afstand doen van sy/haar erfenis geen afstammelinge nalaat nie.
Dit is dus duidelik dat daar deeglik kennis geneem moet word van die regsgevolge indien daar oorweeg word om afstand te doen van ‘n erfenis.
Indien daar enige navrae is, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za