Artikel 4A van die Boedelbelastingwet bepaal dat die belasbare bedrag van die boedel van ‘n persoon bereken word deur die bedrag van R3,5 miljoen van die netto waarde van die boedel af te trek.
Sedert 1 Januarie 2010 word in Artikel 4A(2) bepaal dat, indien ‘n oorledene ‘n vooroorlede gade gehad het, sy/haar boedel geregtig is op ‘n korting van R3,5 miljoen plus die R3,5 miljoen uit die boedel van die vooroorlede gade, minus die netto waarde van die boedel van die vooroorlede gade wat afgetrek is van die Artikel 4A korting.
Hier volg kortliks twee voorbeelde ter illustrasie hiervan:
- A sterf op 1 Julie 2012. Sy vrou is vooroorlede gedurende 2002. Sy het haar hele boedel aan hom bemaak. A se boedel is geregtig op ‘n korting van R3,5 miljoen + R3,5 miljoen – R0 = R7 miljoen.
- B sterf op 1 Julie 2012. Haar man is vooroorlede gedurende 2002. Hy het kontantlegate ter waarde van R1 miljoen aan instansies bemaak en die restant aan B. B se boedel is dus geregtig op ‘n korting van R3,5 miljoen + R3,5 miljoen – R1 miljoen = R6 miljoen.
In gevalle waar daar meer as een vooroorlede gade is, het die Eksekuteur die keuse om die netto waarde van enige van die vooroorlede gades se boedel wat afgetrek is teen die Artikel 4A korting, te gebruik.
Hier volg kortliks ‘n voorbeeld hiervan:
C is oorlede op 10 Januarie 2010.
C was getroud met D wat op 31 Augustus 2005 oorlede is. Die netto waarde van D se boedel was R750 000. Om die belasbare bedrag van haar boedel tot nul te verminder, was R750 000 van die Artikel 4A korting (op daardie stadium R1,5 miljoen) benut.
C is op 31 Oktober 2007 getroud met E wat op 15 Desember 2008 oorlede is. Die netto waarde van E se boedel was R2,5 miljoen. Om die belasbare bedrag van haar boedel tot nul te verminder, was R2.5 miljoen van die Artikel 4A korting (op daardie stadium R3.5 miljoen) benut.
The Eksekuteur van C se boedel het die keuse om die R7 miljoen korting in terme van Artikel 4A(2) te verminder met die R750 000 korting wat in D se boedel benut was of die R2,5 miljoen korting wat in E se boedel benut was.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za.