‘n Eksekuteur word nie bloot op grond van ‘n nominasie in ‘n testament of deur die intestate erfgename (wanneer ‘n persoon sonder ‘n testament te sterwe kom) aangestel nie. ‘n Persoon moet op skrif by die Meester van die Hooggeregshof aansoek doen om as Eksekuteur aangestel te word.
Die persoon wat aansoek doen om as Eksekuteur van ‘n boedel aangestel te word, moet sekuriteit aan die Meester lewer vir die behoorlike uitvoering van sy/haar pligte. Hierdie persoon kan weens sy/haar status en finansiële posisie hom- of haarself persoonlik verbind om sekuriteit te lewer, maar die Meester is huiwerig om dit so te aanvaar en verkies dat ‘n versekeringsmaatskappy eerder ‘n borgakte vir die nodige sekuriteit uitreik.
Die jaarpremie van die borgakte word deur die Meester vasgestel en is tans 0.5% plus BTW van die totale waarde van die boedel en moet jaarliks hernu word.
Die waarde van ‘n borgakte kan met verloop van die beredderingsproses verminder word soos wat bates te gelde gemaak word, maar moet in stand gehou word totdat die boedel afgehandel is.
Meeste testamente bevat ‘n klousule in terme waarvan die Eksekuteur vrygestel word van die lewering van sekuriteit aan die Meester en sal die Meester dan gewoonlik afstand doen van die vereiste.
Indien u egter sonder ‘n testament te sterwe kom en dus nie ‘n Eksekuteur genomineer het wat vrygestel word van die lewering van sekuriteit nie, bepaal Artikel 23 van die Boedelwet dat indien die persoon wat aansoek doen om as Eksekuteur aangestel te word ‘n ouer, kind of die nagelate gade van die oorledene is, daardie persoon vrygestel word van die lewering van sekuriteit.
In gevalle waar ‘n persoon egter nie oor die nodige kennis, kundigheid en ondervinding beskik om ‘n boedel kragtens die Boedelwet te beredder nie, kan die Meesterskantoor daarop aandring dat sekuriteit gelewer word en sal waarskynlik versoek dat ‘n persoon wat kwalifiseer om die bereddering van die boedel namens die Eksekuteur te behartig, as Agent onder volmag van die Eksekuteur aangestel word.
Dit is dus voordelig om met ‘n testament ‘n bekwame Eksekuteur van u keuse te nomineer en vry te stel van die lewering van sekuriteit sodat u boedel koste-effektief en met die nodige sorg in die beste belang van u erfgename beredder word.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za.