Herverdelingsooreenkomste bied aan begunstigdes van ‘n testament of in terme van die Wet op Intestate Erfopvolging, ‘n uitweg om probleme wat as gevolg van mede-eiendomsreg ontstaan, te voorkom.
In die meeste gevalle word ’n herverdelingsooreenkoms aangegaan wanneer die toekenning van boedelbates aan begunstigdes, onuitvoerbaar of onprakties is.
’n Boedel bestaan meestal uit ’n verskeidenheid van boedelbates en met die aangaan van ’n herverdelingsooreenkoms word gepoog om die boedelbates te herskommel met inagneming van die oorspronklike waarde van bates wat aan begunstigdes toegeken word.
Verskillende begunstigdes neem verskillende bates of die boedelbates word gerealiseer en die opbrengs onder die begunstigdes verdeel. Partye tot die ooreenkoms kan onderling nie net op die wyse van verdeling van die bates besluit nie, maar ook oor watter bates by so ’n ooreenkoms ingesluit sal word. Begunstigdes kan egter nie ooreenkom om die bepalings van ’n testament te wysig nie.
’n Uitsluitingsklousule in testamente is meestal standaard sodat ’n erfenis van die erfgenaam se gemeenskaplike boedel uitgesluit word en is die toestemming van ’n gade met wie die erfgenaam binne gemeenskap van goed getroud is, dan nie nodig nie.
Waar onroerende bates waarin ’n minderjarige begunstigde ’n belang het deel vorm van ’n herverdelingsooreenkoms, moet beide die ouers ingevolge die Wet op Voogdyskap die herverdelingsooreenkoms aangaan en met betrekking tot roerende bates, een van die ouers. Artikel 80 van die Boedelwet bepaal dat ’n natuurlike voog nie onroerende goed van sy minderjarige kind mag vervreem of met verband beswaar nie, tensy dit deur Meester van die Hooggeregshof gemagtig word.
Die mate waartoe daar by wyse van ‘n herverdelingsooreenkoms afgewyk kan word, word deur die beginsel van testeervryheid aangespreek en word ook deur sakereg bekragtig, bv. in Cumming v Cumming 1945 moet daar uitvoering gegee word aan die wens van die testateur, soos duidelik en volledig in die testament verwoord en in De Wet v De Wet 1951 is die handelinge en ooreenkomste deur en tussen begunstigdes wat die bepalings van ‘n testament verander of wysig, ongeldig en onafdwingbaar tensy dit deur die Hof bekragtig word.
In die praktyk is ’n gelyke verdeling van die bates nie nodig nie en daar word ook nie vereis dat ’n begunstigde ‘n gelyke waarde moet terug ontvang vir dit wat hy/sy afstaan nie. Selfs in die saak van Bydawell v Chapman het die hof genoem dat die begunstigdes vryelik van hulle regte mag afstand doen. Enige bedrag wat ’n begunstigde ontvang wat meer is as sy of haar bemaakte voordeel ingevolge die testament of die Intestate Erfopvolgingsreg, mag onderhewig wees aan skenkingsbelasting.
Die vrystelling van hereregte sal toegelaat word indien die herverdelingsooreenkoms ’n integrale deel van die beredderingsproses is en dus in beginsel met die testament of Wet op Intestate Erfopvolging ooreenstem en vervat word in die Likwidasie- en Distribusierekening van die boedel.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za.