Indien ‘n persoon ‘n bate in sy Testament aan iemand vererf onderhewig daaraan dat iemand anders ‘n vruggebruik oor die bemaking geniet, word die betrokke partye soos volg onderskei:
Die persoon aan wie die bate toegeken word en wat uiteindelik eienaarskap van die bate verkry staan bekend as die blooteienaar en die persoon aan wie die beperkte reg (vruggebruik) verleen word, staan bekend as die vruggebruiker.
Die blooteienaar verkry normaalweg eienaarskap van die bate nadat die vruggebruiker te sterwe gekom het, maar in sommige geval kan die vruggebruik ook vir ‘n bepaalde termyn geskep word en na verstryking van die termyn verkry die blooteienaar dan eienaarskap.
Hier volg 2 voorbeelde van hoe vruggebruike normaalweg in Testamente omskryf word:
- Ek bemaak my Onroerende Plaaseiendom, bekend as Putsonderwater aan my seun, Klein Jannie, onderhewig aan die voorwaarde dat my eggenote, Kwaai Sannie, ‘n lewenslange vruggebruik sal geniet ten opsigte van die betrokke eiendom, vry van die verpligting om sekuriteit te verskaf vir die behoorlike nakoming van die verpligtinge ingevolge die reg aan haar verleen;
- Ek bemaak my Onroerende Plaaseiendom, bekend as Putsonderwater aan my seun, Klein Jannie, onderhewig aan die voorwaarde dat my eggenote, Kwaai Sannie, ‘n vruggebruik van 10 (Tien) jaar sal geniet, vry van die verpligting om sekuriteit te verskaf vir die behoorlike nakoming van die verpligtinge ingevolge die reg aan haar verleen.
In die voorbeelde hierbo is Klein Jannie dan die blooteienaar en Kwaai Sannie die vruggebruikster.
Daar ontstaan egter baie onsekerheid en natuurlik ook wrywing oor wat nou die verpligtinge en verantwoordelikhede van die vruggebruiker en blooteienaar is.
Die Testateur kan uiteraard ook Testamentêr bepaal watter verantwoordelikhede deur die vruggebruiker en blooteienaar onderskeidelik nagekom behoort te word, maar indien daar geen duidelike voorskrifte hieroor bestaan nie, is die algemene toepassing soos volg:
- Die vruggebruiker is verantwoordelik vir die algemene instandhouding van die eiendom, maar is nie verplig om enige gebreke wat ontstaan weens normale slytasie of bv. skade weens vloed- of haelstorms uit eie fondse te vereffen nie;
- Die vruggebruiker is verder verantwoordelik vir alle eiendomsbelastings en dienste, maar nie die versekeringspremies t.o.v. die geboue en/of inhoud nie;
- Dit is ook belangrik om kennis te neem dat ‘n vruggebruiker nie geregtig is om enige verbeteringe wat hy/sy aan die eiendom aanbring van die blooteienaar terug te eis nie;
- Die vruggebruiker sal wel by magte wees om sodanige verbeteringe weer te verwyder, mits die eiendom in dieselfde toestand gelaat word as toe die vruggebruik gevestig het en voordat die verbeteringe aangebring was.
Dit is dus belangrik dat ‘n vruggebruik en die verantwoordelikhede wat op die vruggebruiker en blooteienaar gaan rus, deeglik oorweeg word alvorens ‘n vruggebruik in ‘n Testament geskep word, bloot omdat dit sekere boedelbelasting- of ander belasting-voordele vir die boedel en gevolglik die erfgename mag inhou.
Met enige navrae aangaande die artikel, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za