Boedelbelasting is belasting wat betaalbaar is op die oordrag van welvaart vanaf ‘n bestorwe boedel na die begunstigdes en word gehef in terme van die bepalings van die Boedelbelastingwet van 1955.
Boedelbelasting word gehef teen ‘n koers van 20% van die belasbare bedrag van ‘n boedel tot R30 miljoen, en teen 25% van die belasbare bedrag van die boedel waar dit R30 miljoen oorskry. In hierdie artikel beantwoord ons ‘n paar algemene vrae oor boedelbelasting:
Hoe word dit bereken?
Die belasbare waarde van ‘n bestorwe boedel word bereken deur die waarde van die oorledene se eiendom of bates bymekaar te voeg, toelaatbare uitgawes af te trek, en dan die Artikel 4A-korting af te trek, op watter punt die boedel dan belas word teen die koerse hierbo vermeld.
Die Artikel 4A Korting is die algemene korting waarvoor alle persone/boedels in Suid-Afrika kwalifiseer.
Die huidige Artikel 4A Korting beloop R3.5 Miljoen en sedert Januarie 2010 is Wetgewing aangepas om te bepaal dat die onbenutte gedeelte van ‘n eerssterwende se Artikel 4A Korting aangewend kan word in die langslewende se boedel.
Dit beteken dus dat die langslewende se boedel moontlik vir ‘n totale Artikel 4A Korting van R7 Miljoen kan kwalifiseer.
In praktyk kan ‘n boedelbelastingberekening egter redelik ingewikkeld raak, aangesien nie alle bates boedelbelastingpligtig is nie en so kwalifiseer alle laste ook nie as toelaatbare aftrekkings vir boedelbelasting nie.
Hoe waardeer ek bates in ‘n boedel wat onderhewig is aan boedelbelasting?
Belangrik om kennis te neem dat sodra daar enige moontlikheid is dat ‘n boedel onderhewig kan wees aan boedelbelasting, daar geswore waardasies op die boedelbates geplaas moet word.
Die waarde van alle bates en laste moet duidelik en deeglik gemotiveer kan word, aangesien SARS ‘n verifikasie van die waarde van die bates en laste kan vereis, omdat ‘n afwyking teenoor markwaarde tot gevolg kan hê dat ‘n onderverhaling of oorverhaling ten opsigte van boedelbelasting betaalbaar kan geskied.
Wat vorm deel van die belasbare waarde van ‘n bestorwe boedel?
Boedelbelasting is betaalbaar op alle eiendom wat aan ‘n oorlede persoon behoort – tesame met alle eiendom wat geag word aan daardie persoon te behoort. Die definisie van eiendom in terme van die Boedelbelastingwet sluit roerende en onroerende bates en alle regte of belange in eiendomme, Maatskappye en/of Beslote Korporasies in.
Die groot kopseer waarmee gereeld klei getrap word is geagte bates, wat verwys na enige voordeel wat ontvang word as gevolg van die dood van die oorledene en sluit die opbrengs van Polisse op die lewe van die oorledene in (onderhewig aan sekere uitsonderings wat ons al in vorige artikels bespreek het).
Die probleme ontstaan omdat die opbrengs van Polisse byvoorbeeld aan ‘n familietrust begunstig word en kort na afsterwe aan die betrokke begunstigde uitbetaal. Omdat die opbrengs van die Polis as geagte bate vir boedelbelasting beskou word, is die opbrengs belasbaar en kan dit tot gevolg hê dat die begunstigde pro-rata tot die boedelbelasting betaalbaar moet bydra.
In baie gevalle en omdat die Polisse waarskynlik kort na sterfdatum uitbetaal het, is die fondse nie meer beskikbaar nie of het die Trust of Begunstigde reeds die fondse aangewend om bv. skuld te delg of in ‘n vaste belegging te plaas.
Dit is dus uiters belangrik dat begunstigdes van enige Polisse (gades uitgesluit omdat voordele tussen gades vrygestel is van boedelbelasting) deeglik kennis moet neem en seker moet maak of daar nie enige boedelbelasting betaalbaar is op die opbrengs van Polis(se) wat hulle weens ‘n persoon se afsterwe ontvang het nie.
Indien u enige navrae het is u welkom om vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za te kontak.