Die onderstaande punte van inligting is ‘n NIE-uitputtende lys van moontlike uitgawes:
Maandelikse munisipale tariewe; belasting op u eiendom en beheerliggaam- en huiseienaars-verenigingsheffings
Die betaling van munisipale tariewe en belasting op u eiendom kom nie tot ’n einde met u afsterwe nie. Enige vaste eiendom in ‘n bestorwe boedel (“boedel”), is onderhewig aan tariewe en belasting wat op die eiendom gehef word, sowel as verbruiksheffings vir water en elektrisiteit. Die verantwoordelikheid rus dan by die eksekuteur en die erfgename om te sorg dat die rekeninge betaal word en om sodoende te voorkom dat dienste gestaak word. ’n Bepalende faktor is natuurlik of die eiendom geokkupeer word en deur wie.
’n Verdere uitgawe hierop is die belastinguitklaringsyfers wat drie maande vooruitbetaalbaar is voordat ‘n munisipale uitklaringsertifikaat uitgereik kan word en oordrag in die Aktekantoor gevolglik kan plaasvind. Indien daar vorige munisipale rekeninge op die eiendom uitstaande is sal dit ook eers vereffen moet word. Indien daar ’n agterstand in die betalings is en die boedel nie genoegsame fondse het om die kostes te betaal nie, sal die erfgename die kontanttekort moet inbetaal sodat die oordrag na hul name kan plaasvind.
Beheerliggaam- en huiseienaarsverenigingsheffings is addisioneel tot die bogenoemde kostes indien die eiendom ’n eenheid in ‘n deeltitelskema is of deel vorm van ’n huiseienaarsvereninging. Hierdie kostes is maandeliks betaalbaar. Gedurende die boedeladministrasie tydperk sal die eksekuteur en erfgename verantwoordelik wees vir enige finansiële verpligtinge wat die oorledene het, insluitend die betaling van die maandelikse heffings, spesiale heffings en enige boetes op die oorledene se rekord.
Oordragkostes
Oordragkostes is die kostes betaalbaar aan die prokureur vir die oordrag van ’n eiendom in die erfgenaam/die koper se naam. In ’n gewone kooptransaksie is die koper verantwoordelik vir die betaling van die oordragkostes wat ook hereregte betaalbaar aan SARS insluit. In die geval van ’n boedeloordrag na ’n erfgenaam, hetsy dit in terme van die testament geskied of ’n herverdelingsooreenkoms, is die boedel verantwoordelik vir die oordragkostes en die oordrag is vrygestel van hereregte en is daar geen hereregte aan die SA Inkomstediens betaalbaar nie. Let wel, indien daar nie genoeg kontant in die boedel is nie, sal die erfgename die kontanttekort moet inbetaal sodat die oordrag kan plaasvind.
Uitstaande verbandkostes
‘n Verband word oor onroerende eiendom geregistreer as sekuriteit vir ‘n lening wat deur die oorledene aangegaan is tydens die aankoop van die eiendom. Die verband moet afgelos word voordat die eiendom aan die erfgenaam oorgedra kan word.
Indien daar genoeg fondse in die boedel is om die uitstaande skuld op die eiendom te dek, kan die verband afgelos word en daarna aan die erfgenaam oorgedra word.
Indien daar nie voldoende fondse in die boedel is nie en die erfgenaam nie die nodige kontant het, of nie kwalifiseer om die verband oor te neem nie, sal die eiendom verkoop moet word om die boedelskuld te vereffen en enige oorblywende opbrengs uit die verkoop, nadat die verband en ander boedelkoste en-laste vereffen is, sal dan die erfgenaam toekom.
Dit is dus van kardinale belang dat daar genoegsame fondse in u boedel is om u lopende uitgawes op onroerende eiendom na u afsterwe te dek. Maak dus genoegsame voorsiening daarvoor sodat die erfgename van u boedel nie genoop is om die eiendom te verkoop omdat hulle nie die nodige kostes op lopende uitgawes op onroerende eiendom kan bybring nie.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Elaine Breet by elaine@fhbc.co.za, Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za