‘n Nuwe jaar, nuwe uitdagings en nuwe voornemens en dalk ‘n goeie geleentheid om die opstel van ‘n Testament of die hersiening van u bestaande Testament op die “to do” lysie te hê.
Die belangrikheid van ‘n Testament kan nie genoeg beklemtoon word nie, maar ons kry steeds gereeld met gevalle te doen waar individue met boedels met substansiële waardes geen of ‘n gebrekkige Testament het.
Onthou dit is die persoon wat te sterwe kom se gade en kinders wat “ly” weens die gebrek aan ‘n Testament en/of deeglike boedelbeplanning en nie die oorledene nie.
Dit plaas baie families in onaangename posisies en kan wrywing veroorsaak in reeds moeilike emosionele omstandighede.
Dit kan egter vermy word indien u, u Testamentsake met die nodig erns hanteer.
- V: Wie behoort ‘n Testament te hê?
A: Alle persone van 16 jaar en ouer wat bates besit en bevoeg is om sy / haar optrede te verstaan.
- V: Hoekom behoort ek ‘n Testament te hê?
A: ‘n Testament stel u in staat om erfgename volgens u keuse te benoem. Indien u sonder ‘n Testament (Intestaat) te sterwe sou kom, sal u bates volgens die Wet op Intestate Erfopvolging verdeel word. Dit mag dus die gevolg hê dat persone wie u nie noodwendig as erfgename sou wou benoem nie, voordele by u afsterwe gaan ontvang.
- V: Wie mag nie ‘n Testament as getuie onderteken nie?
A: ‘n Erfgenaam, genomineerde Eksekuteur, genomineerde Trustee en die gades van sodanige partye.
- V: Wie mag u Testament as getuie onderteken?
A: Die Testament moet in die teenwoordigheid van twee getuies geteken word wat ook in die teenwoordigheid van mekaar teken. Slegs persone 14 jaar en ouer kwalifiseer om ‘n Testament as getuie te onderteken.
- V: Wie stel ek as Eksekuteur aan?
A: ‘n Eksekuteur moet bates vorder, toeken en oordra aan u erfgename en seker maak dat u skulde betaal is. U kan feitlik enige persoon of instelling aanstel om op te tree as die Eksekuteur van u boedel, maar hou in gedagte dat die administrasie van ‘n boedel en die uitvoering van ‘n Testament ‘n gespesialiseerde veld is en behoort u dus ‘n groot mate van vertroue te stel in die persoon wat u as Eksekuteur nomineer.
- V: Wat beloop Eksekuteursvergoeding?
A: Die maksimum vergoeding waarop ‘n Eksekuteur geregtig is word deur Wetgewing vasgestel en beloop tans 3.5% van u totale bruto boedelwaarde. Soos ons egter al in verskeie vorige Artikels beklemtoon het, behoort die eksekuteursvergoeding onderhandel te word met die persoon wat as Eksekuteur van u Testament benoem word.
- V: Hoe en waar bewaar ek my Testament?
A: U behoort natuurlik u Oorspronklike Testament in veilige bewaring te hou. Ons beveel aan dat u testament in duplikaat onderteken word vir afsonderlike veilige bewaring. ‘n Oorspronklike ondertekende duplikaat kan bv. by u huis gehou word en die tweede oorspronklike getekende dokument moet verkieslik deur u Eksekuteur of die firma wat sal optree as u Eksekuteur bewaar word.
- V: Hoe gereeld behoort ek my Testament te hersien?
A: Ons aanbeveling is dat ‘n Testament ten minste elke 2 jaar hersien behoort te word. Dit is egter ook belangrik om die hersiening van u Testament met gebeurtenisse soos bv. ‘n huwelik, ‘n geboorte of ‘n egskeiding te oorweeg.
Kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za indien u enige navrae het.