Alhoewel daar geen voorskrif is wat bepaal dat u testament deur ‘n professionele persoon opgestel moet word nie, wil ons tog aanbeveel dat u van die volgende kennis neem alvorens u besluit om dit self te doen of ‘n konsep-testament by ‘n skryfbehoeftewinkel te koop:
- Daar is sekere wetlike voorskrifte waaraan u testament moet voldoen en wat gereguleer word deur die Wet op Testamente. Indien u testament nie hieraan voldoen nie kan dit tot gevolg hê dat u boedel nie volgens u wense verdeel kan word nie en dat u erfgename in sommige gevalle ‘n hofaansoek sal moet bring om u testament geldig te verklaar. Afhangende van die agtergrond en omstandighede is daar ook geen waarborg dat so ‘n aansoek suksesvol sal wees nie;
- Indien daar onduidelikhede in u self opgestelde testament voorkom, kan dit aanleiding gee tot onnodige twiste, wrywing tussen familielede en waarskynlik ook addissionele kostes omdat sekere bemakings en instruksies nie duidelik is nie of onuitvoerbaar is;
- U bewoording vir die bemaking van spesifieke bates mag in u opinie duidelik en verstaanbaar wees, maar daar is gereeld hofsake wat veroorsaak is deur testamente en bepalings wat onduidelik, dubbelsinnig, vaag is of wat teenstrydig is met ander bepalings in dieselfde testament;
- U huwelikstatus en die inhoud van u huweliksvoorwaardekontrak (indien van toepassing) het alles ‘n invloed op u boedel en hoe u testament moet lees;
- Indien u oor buitelandse bates beskik, gaan u moontlik ook ‘n plaaslike testament benodig om oor plaaslike bates te beskik en ‘n buitelandse testament om oor daardie bates te beskik; en
- Daar kan moontlik ook ruimte wees om u testament so te struktureer om voordele te bied wat boedelbelasting, kapitaalwinsbelasting en administrasiekostes betref en hiervoor sal dit nodig wees om ‘n deeglike boedelontleding te doen.
Minimale verandering tot die uitleg en struktuur van ‘n testament kan dus groot finansiële voordele inhou.
Indien u enige navrae het of hulp met die opstel van u testament benodig, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za, Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of vir Elaine Breet by elaine@fhbc.co.za