Twee van ons Direkteure, Jacobus Maree en Hendrik Rabie, het die naweek van 10 Augustus deelgeneem aan die Transbaviaans, die 24uur bergfietsresies van 230 km vanaf Wilowmore na Jeffreysbaai. Jacobus en sy spanmaat het die resies binne 12 ure voltooi. Hendrik en sy spanmaat het die resies binne 14 ure 21 minute voltooi. Veels geluk met hierdie goeie prestasie. Die personeel is baie trots op hulle.
Nissan Trailseeker het op 17 Augustus ‘n bergfietsresies aangebied en op 18 Augustus ‘n “trail run”. Beide die bergfietsresies en die “trail run” het by Bosman Family Vineyards, net buite Wellington, begin. Hendrik Rabie (Direkteur) het aan die 65 km bergfietsresies deelgeneem, terwyl Pierre la Grange (Rekeningkundige klerk) die 45 km aangedurf het. Santie Oberholzer (Direkteur) en Elri Theron (Debiteure en Administratiewe assistent) het 10 kilometer gedraf, terwyl Annemarie Edwards (Finansiële en Rekeningkundige Bestuurder) en Lizette Vorster (Boedelberedderaar) die 5 kilometer te voet aangedurf het.
As deel van Vrouemaand het Advokaat Lorraine Oosthuysen op 12 Augustus die eerste- en derdejaar studente van Isa Carstens toegespreek met die Tema: “Empowerment of women through knowledge”. Lorraine het advies gedeel oor hoe om ‘n eie besigheid te begin, finansiële onafhanklikheid en ‘n paar punte oor verskillende tipes dienskontrakte uitgelig. Die studente het die sessie as baie insiggewend ervaar en met hul toestemming deel ons die foto’s soos vanaf hulle ontvang.
Op Saterdag 17 Augustus was die Vrouedagbyeenkoms deur PSG Insure, PSG Wealth Oxfordstraat en FHBC aangebied, met die tema van “Wat as…”. Ongeveer 160 dames het die byeenkoms bygewoon. Daar was twee hoofsprekers. Die eerste spreker het oor finansiële onafhanklikheid gesels en riglyne gegee oor hoe om finansieël ingelig te wees. Die tweede spreker se bemoedigende woorde het elkeen oor haar droom in die lewe laat dink en hoe om voorbereid te wees, al sou onvoorsiene negatiewe gebeure oor haar pad kom, om steeds haar droom te kan navolg. Die dag was baie insiggewend en ons kry baie positiewe terugvoer. Dankie aan elkeen wat die byeenkoms onvergeetlik gemaak het. Volgende jaar maak ons weer so.
Vrydag 6 September is Loslitdag en die tema is “Time to Shine”. Die personeel sal weer individueel en in spanverband deur beoordelaars teen sekere kriteria punte verdien. Die dag word afgesluit met ‘n partytjie vir die viering van verjaarsdaggroep 3 se verjaarsdae, waartydens die wenners vir Loslitdag ook aangekondig sal word.
Op Sondag 22 September neem Gavin Fraser (Rekeningkundige klerk) deel aan die Karoo to Coast bergfietsresies. Die roete is 95.95 km vanaf Uniondale na Knysna. Alle sterkte word Gavin toegewens.