Ons het in ons vorige nuusbrief die betekenis van samesmelting, adiasie en repudiasie aangeraak en kyk nou in kort na die implikasie van skenkingsbelasting en hereregte by samesmelting.
Skenkingsbelasting
Die langslewende gee effektief sy/haar afsonderlike boedel of deel van ‘n gemeenskaplike boedel aan die eerssterwende in ruil vir ‘n beperkte reg (bv ‘n vruggebruik).
As die waarde van die boedel wat deur die langslewende afgestaan word groter is as wat ontvang word, word die langslewende geag ‘n donasie te maak van die verskil in waarde tussen die twee bedrae, wat dan onderhewig sal wees aan skenkingsbelasting.
As die waarde van die vruggebruik wat die langslewende toekom, kleiner is as die billike markwaarde van die boedel wat hy/sy afstaan, sal die verskil ‘n skenking wees.
Die langslewende verkry soms ‘n gevestigde reg in ‘n trust uit ‘n testament waar boedelsamesmelting plaasvind. Die tipe trust, hetsy ‘n bewindtrust of ‘n diskresionêre trust, sal egter bepaal of die langslewende wel ‘n gevestigde reg verkry waarvoor ‘n waarde bereken kan word vir vrystelling van skenkingsbelasting.
Die langslewende (skenker) is aanspreeklik vir die betaling van die skenkingsbelasting. As die skenker versuim om sy belasting binne die voorgeskrewe tydperk te betaal (gewoonlik aan die einde van die maand wat volg op die maand waarin die skenking in werking getree het, of vir ‘n tydperk deur die Kommissaris toegelaat), is die skenker en die ontvanger van die skenking gesamentlik en afsonderlik aanspreeklik vir die belasting op skenking.
Skenkings (met inagneming van sekere vrystellings) wat op of na 1 Oktober 2001 gemaak is, is onderhewig aan skenkingsbelasting wat gehef word teen ‘n koers van 20% op die eerste R30 miljoen van die skenkings en 25% op skenkings oor R30 miljoen oor die leeftyd van die skenker.
Hereregte
Die Wet op Hereregte stel enige vaste eiendom wat deur ‘n testament bemaak word aan ‘n erfgenaam vry van hereregte. Met samesmelting moet die erfgenaam egter hereregte betaal op die gedeelte vaste eiendom wat hy of sy van die langslewende ontvang.
Indien daar enige navrae is, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za