Die verpligtinge en verantwoordelikhede van direkteure is gemeenregtelik sowel as statutêr van aard en hou verband met die fidusiêre verpligtinge wat direkteure het teenoor die maatskappy waarvan hy dien as ‘n direkteur. Die basiese gemeenregtelike verantwoordelikhede van ‘n direkteur is:
- Om te goeder trou in die beste belang van die maatskappy op te tree.
- Om binne die grense van magte en bevoegdhede op te tree.
- Om vir ‘n behoorlike doel op te tree.
- Om ‘n onafhanklike oordeel uit te oefen.
- Om ‘n botsing van belange te vermy.
‘n Botsing van belange ontstaan waar ‘n direkteur homself in ‘n situasie bevind waar sy persoonlike belange kompeteer met die belange van die maatskappy waarvan hy as direkteur dien. Aangesien die direkteur deurgaans verplig is om aan die gestelde verantwoordelikhede en verpligtinge te voldoen, moet ‘n belange botsing so ver moontlik vermy word, maar wanneer dit sou ontstaan, moet dit verklaar en behoorlik bestuur word.
Hierdie gemeenregtelike verpligtinge van direkteure is dan ook vervat in die Maatskappy Wet, Wet Nr. 71 van 2008 (“die Wet”).
Artikel 75(5) bepaal dat ‘n direkteur van ‘n maatskappy, wat ‘n persoonlike finansiële belang het met betrekking tot ‘n saak wat by ‘n vergadering van die direksie oorweeg gaan word, of weet dat ‘n verwante persoon ‘n persoonlike finansiële belang by die saak het, sodanige belang, die omvang en aard daarvan moet verklaar (openbaar maak), alvorens daar besluit word oor die aangeleentheid. Die direkteur moet onmiddelik na die openbaarmaking van sodanige inligting, die vergadering verlaat en hy mag geen verdere insae hê in die aangeleentheid nie.
Artikel 75(6) bepaal verder dat waar ‘n direkteur van ‘n maatskappy ‘n persoonlike finansiële belang verkry by ‘n ooreenkoms of ander saak waarby die maatskappy ‘n wesenlike belang het, of weet dat ‘n verwante persoon ‘n persoonlike finansiële belang by die saak verkry het, moet daardie direkteur, nadat die ooreenkoms of ander saak deur die maatskappy goedgekeur is, onmiddellik aan die direksie, die aard en omvang van daardie belang, en die wesenlike omtandighede met betrekking tot die direkteur of verwante persoon se verkryging van daardie belang, openbaar maak.
Interessant is dat die Wet verder gaan en die verklaring van botsende belange vereis, nie net in die geval waar die direkteur oor die botsende belang beskik nie, maar ook waar “verwante” van die direkteur oor so ‘n botsende belang sou beskik.
Artikel 1 van die Wet bepaal ‘n direkteur is lid van die direksie van ‘n maatskappy soos beoog in Artikel 66, of ‘n plaasvervangende direkteur. Die omskrywing van ‘n direkteur sluit enige persoon in wat die posisie van ‘n direkteur of alternatiewe direkteur, onder watter naam ookal, beklee. “Direkteur” sluit dus ook ‘n de facto direkteur in (dus enigeen wat as direkteur optree).
Die Wet sluit al die volgende persone in as direkteure: Direkteure, Alternatiewe direkteure, voorgeskrewe beamptes, lede van direksiekomitees (selfs al is hulle nie lede van die direksie nie) en lede van die ouditkomitee (wat almal lede van die direksie moet wees).
“Verwante” persone word in artikel 2 van die Maatskappy Wet uiteengesit en omvang ‘n wye spektrum van verwantskappe ten opsigte van natuurlike sowel as regspersone.
Dit is dus veral belangrik dat waar ‘n direkteur familie het wat betrokke is by ‘n spesifieke maatskappy verwante aangeleentheid, bewus is van die moontlike bestaan van botsende belange en waar nodig, sodanige belange sonder verwyl openbaar. Dit is ook belangrik dat waar ‘n direkteur dien as direkteur op die direksies van meer as een maatskappy, hy met omsigtigheid te werk sal gaan om te verseker dat hy te alle tye onafhanklik en in die beste belang van elkeen van sodanige maatskappye optree.
Indien u enige verdere inligting ten opsigte van die verpligtinge en verantwoordelikhede van direkteure benodig, stuur gerus ‘n e-pos aan lorraine@fhbc.co.za.
Source Reference:
Die Maatskappy Wet, Nr, 71 van 2008
https://cdn.ymaws.com/www.iodsa.co.za/resource/collection/6AFA1967-5252-4F2C-A3B1-08DFA678F43B/Conflicts_of_interest.pdf
https://www2.deloitte.com/content/dam/Deloitte/za/Documents/governance-risk-compliance/ZA_ConflictsOfInterest_24032014.pdf
https://www.cliffedekkerhofmeyr.com/en/news/publications/2018/Corporate/corporate-and-commercial-alert-31-october-director-overboarding-conflicts-of-interest-in-terms-of-section-75-of-the-companies-act-2008.html