As deel van u boedelbeplanning is dit belangrik dat u vertroud is met hoe die waarde van u boedel bepaal sal word. Artikel 5 van die Wet op Boedelbelasting no. 45 van 1955 bepaal die reëls vir die waardasie van eiendom in u boedel.
Bates wat tydens die beredderingsproses te gelde gemaak word
Bates wat deur die Eksekuteur verkoop word tydens die likwidasie proses word getoon teen die bruto verkoopprys indien die Kommissaris van SARS tevrede is dat dit ‘n bona fide verkoping was. In die praktyk beteken ‘n bona fide verkoping ‘n verkoopprys teen markwaarde of meer.
Hier is twee uitsonderings:
- Privaat Maatskappy aandele of ‘n ledebelang in ‘n Beslote Korporasie;
- Indien voorwaardes aan ‘n verkoping gekoppel word en in die opinie van die Kommissaris die waarde van die bate op datum van afsterwe verminder het.
Privaat Maatskappy aandele of ‘n ledebelang in ‘n Beslote Korporasie
‘n Onafhanklike waardeerder wat deur die Kommissaris van SARS goedgekeur is, moet die waarde van hierdie bates volgens die voorgeskrewe prosedure, wat uiteengesit word in Artikel 5, bepaal. Gewoonlik aanvaar die Kommissaris egter ‘n waardasie deur die maatskappy se rekenmeester of ouditeur.
Die berekening van ‘n vruggebruik, fidusiêre reg of blote eienaarskap
Die waarde van hierdie belange onmiddelik voor die oorledene se afsterwe, moet bereken word. Dit word gedoen deur die jaarlikse waarde van die reg oor die eiendom te kapitaliseer oor die lewensverwagting van die persoon na wie die reg oorgaan, of, indien die reg vir ‘n korter periode as die lewensverwagting van toepassing was, dan oor so ‘n mindere tydperk.
Die jaarlikse waarde van hierdie reg op ‘n eiendom word geag 12% van die waarde van die eiendom te wees. Die Kommissaris mag egter die waardes verlaag as hy/sy van mening is dat die bate nie ‘n 12% opbrengs kan lewer nie.
Die presiese waardasiemetode hang af van die aard van die reg en word soos volg bereken:
Vruggebruik
- Indien die vruggebruik oorgaan na ‘n ander persoon:
Billike markwaarde x 12% x lewensverwagting van nuwe vruggebruiker of vaste termyn.
- Indien die vruggebruik eindig, die kleiner van (a) en (b) hieronder:
- Billike markwaarde van die bate soos op datum van afsterwe van die vruggebruiker x 12% x blooteienaar se lewensverwagting;
- Billike markwaarde soos op datum van afsterwe van die vruggebruiker minus die blooteiendomswaarde toe die vruggebruik geskep was.
Blooteiendomswaarde
Die blooteiendomswaarde is die billike markwaarde toe die vruggebruik geskep was minus die waarde van die vruggebruik op daardie tydstip, welke vruggebruik soos volg bereken word: Billike markwaarde van bate toe vruggebruik geskep was x 12% x lewensverwagting van vruggebruiker.
Fidusiêre reg
Dit is die billike markwaarde van die bate x 12% x lewensverwagting van die person aan wie die reg gaan of die vaste termyn.
Die lewensverwagting van ‘n persoon word bepaal volgens die tabelle kragtens Artikel 29 van die Wet op Boedelbelasting en is van toepassing op alle persone wat op of na 1 April 1977 gesterf het. Tabel A bevat lewensverwagting faktore gebaseer op die ouderdom van ‘n persoon by sy/haar volgende verjaardag en Tabel B bevat die faktore wat op vaste periodes toegepas moet word.
Waardasies van ander eiendom
Die billike markwaarde van eiendom word bepaal deur ‘n onpartydige waardeerder wat deur die Kommissaris aangestel is. Die waardeerder moet enige voorwaarde ignoreer wat die waarde van die eiendom na die dood verminder, tensy die Kommissaris anders bepaal.
Waar die bate ‘n onroerende eiendom in die Republiek is waarop ‘n bona fide boerdery bedryf word, word die billike markwaarde gedefinieer as die waarde hierbo minus 30 persent.
Die Kommissaris aanvaar waardasies wat gedoen word deur waardeerders wat deur die Minister van Justisie aangestel is om ‘n waardeerder vir ‘n spesifieke gebied te wees. Soms is die bates egter van ‘n gespesialiseerde aard en die Kommissaris verkies waardasies deur kundiges wat sulke bates hanteer.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za