Op 8 Desember 2020 is Regulasies in terme van die Nasionale Energiewet (Wet Nr. 34 van 2008) in die Staatskoerant gepubliseer (Staatskoerant, 8 Desember 2020, Nr 43972), wat die vertoon en indiening van Energie Sertifikate vir die eienaars van sekere geboue verpligtend maak. Die Regulasies bepaal dat sekere gebou-eienaars twee (2) jaar het vanaf die uitreiking van hierdie Regulasies, om die verpligtinge in terme van die Regulasies neergelê, na te kom.
Die Regulasies het ten doel om verpligte vereistes daar te stel vir die vertoon van Energie Sertifikate in nie-residensiële geboue en maak ook voorsiening vir die indiening van hierdie Energie Sertifikate by ‘n gepaste instansie. Die Energie Sertifikaat sal aanduidend wees van die energieverbruik per m² van die vloerspasie van ‘n gebou.
Voldoeningskriteria:
In terme van die Regulasies moet die rekenkundige beamptes van geboue wat deur die Staat besit word, welke geboue oor ‘n totale vloerarea van meer as 1000 m² beslaan, nie in die laaste 2 jaar groot verbouings / opknappings ondergaan het nie en in een van vier (4) dominante okkupasie kategorieë val in terme van die Nasionale Bouregulasies, aansoek doen vir die Energie Sertifikate, wat in die hoofingang van die gebou ten toon gestel moet word, en ook ingedien moet word by SANEDI, binne drie (3) maande na uitreiking van sodanige sertifikaat.
Eienaars van private geboue met ‘n totale vloerarea van meer as 2000 m², wat nie in die laaste 2 jaar groot verbouings / opknappings ondergaan het nie en in een van vier (4) dominante okkupasie kategorieë val in terme van die Nasionale Bouregulasies, is ook verplig om aansoek te doen vir die Energie Sertifikate, wat in die hoofingang van die gebou ten toon gestel moet word, en ook ingedien moet word by SANEDI, binne drie (3) maande na uitreiking van sodanige sertifikaat.
Die vier (4) dominante okkupasie kategorieë waarna verwys word is as volg:
- Vermaaklikheids- en openbare byeenkomplekke (byvoorbeeld geboue waar persone vergader om te eet, drink, dans of ander ontspanningsaktiwiteite beoefen; gemeenskapsentrums)
- Teaters en binnenshuise sport (byvoorbeeld geboue waar persone vergader vir die bywoning van teater optredes, orkes, koor, film, opera of sport vertonings; sportsentrums)
- Opleidingsentrums (byvoorbeeld skole, universiteite, en enige ander geboue waar kinders, studente, en enige ander persone vergader vir doeleindes van opleiding en leer)
- Kantore (enige besetting as kantoorspasie, byvoorbeeld banke, konsultasiekamers en enige ander soortgelyke gebruik)
Indien u die eienaar is van ‘n gebou wat aan bogemelde kriteria voldoen, is u dan verplig om aan die Regulasies te voldoen en aansoek te doen vir die Energie Sertifikaat. Hierdie sertifikaat moet dan in die hoofingang van die gebou ten toon gestel word en moet u daardie sertifikaat indien by SANEDI, binne ‘n tydperk van drie (3) maande vanaf die datum waarop die sertifikaat uitgereik is.
Slegs bevoegde SANAS geakkrediteerde diensverskaffers mag Energie Sertifikate uitreik. Die uitgereikte Energie Sertifikaat sal geldig wees vir ‘n termyn van vyf (5) jaar vanaf datum van uitreiking.
SANEDI is daarmee getaak om ‘n publieke Nasionale Geboue Energie Prestasie Register daar te stel, en inligting van Energie Sertifikate sal in hierdie register opgeneem word.
Nakoming van die Regulasies is verpligtend, maar hou ook voordeel in. Eienaars van geboue sal nou in staat wees om met die bevestiging van die energieverbruik van ‘n spesifieke gebou, ingeligte pro-aktiewe stappe te neem om verbeterde energie verbruikspraktyke te implementeer en alternatiewe energiebronne te oorweeg. Effektiewe en voordelige lae energieverbruik sal relevant wees in die bepaling van verhuringskoste en sal ook in ag geneem word waar geboue verkoop/aangekoop word.
Geboue sal dus voortaan ‘n gradering ontvang gebaseer op die hoeveelheid energieverbruik per m² in daardie gebou.
Aangesien die tyd uitloop en die spertyd vir voldoening nader, is dit raadsaam dat kwalifiserende gebou-eienaars so spoedig moontlik ‘n bevoegde geakkrediteerde diensverskaffer nader en aansoek doen vir die uitreiking van die verpligte Energie Sertifikaat.
Enige navrae in die verband kan aan Adv Lorraine Oosthuysen gerig word by lorraine@fhbc.co.za.
Source Reference:
Staatskoerant, 8 Desember 2020, Nr. 43972 (Regulations for the mandatory display and submission of Energy Performance Certificates for buildings)
https://www.gov.za/sites/default/files/gcis_document/202012/43972gon700.pdf
Nasionale Energiewet, Wet Nr. 34 van 2008
South African National Energy Development Institute (SANEDI) – https://www.sanedi.org.za/