Die afsterwe van ‘n geliefde is meestal ‘n traumatiese gebeurtenis en dit is onvermydelik dat die naasbestaandes verslae en magteloos sal voel.
Dit kan dus uiteraard moeilik wees om rasioneel en doelgerig te handel en die korrekte opsies te oorweeg en besluite te neem.
Dit is egter belangrik om kennis te neem van sekere reëlings wat direk ná die sterfte getref behoort te word.
Natuurlike en onnatuurlike sterftes:
- Natuurlike sterftes is wanneer ’n persoon sterf as gevolg van natuurlike oorsake soos byvoorbeeld ’n hartaanval, beroerte of kanker.
Dit kan onverwags of ná ’n lang siekbed geskied. Indien die sterfte in die hospitaal plaasvind, sal die dokter ’n kennisgewing van sterfte uitreik. Die familie skakel met die hulp van die hospitaalpersoneel die begrafnisondernemer van hulle keuse. Die begrafnisondernemer sal die liggaam kom haal en die kennisgewing van sterfte saam met hulle neem vir amptelike registrasie.
As die sterfte tuis of by ’n aftree- of versorgingsoord plaasgevind het, moet die dokter wat die oorledene behandel het, gekontak word vir die uitreiking van die sterftekennisgewing. Die dokter word normaalweg deur die familie of die personeel van die oord gekontak. Die begrafnisondernemer van die familie se keuse moet ook gekontak word om die liggaam en kennisgewing van sterfte af te haal
Indien die sterfte nie by die huis, in ’n aftree- of versorgingsoord of in die hospitaal plaasgevind het nie, word ’n begrafnisondernemer van eie keuse gekontak om die nodige bystand met verdere reëlings te bied.
- Onnatuurlike sterftes is wanneer ‘n persoon te sterwe kom as gevolg van byvoorbeeld ‘n ongeluk, moord, selfdood of verdrinking.
Indien dit in die hospitaal of versorgingsoord gebeur het, sal die personeel van die instelling die polisie skakel.
Indien dit tuis plaasvind, kontak self die polisie. Hulle sal die nodige verklarings kom afneem en die toneel ondersoek. Die polisie se patologiese dienste sal dan die liggaam kom afhaal en na die staatslykhuis neem waar ’n lykskouing gedoen sal word om die presiese oorsaak van dood te bepaal.
Daarna sal ’n kennisgewing van sterfte uitgereik word om die sterfte amptelik te registreer.
Moet onder geen omstandighede met enige forensiese bewyse of mediese toerusting by die toneel inmeng nie.
Die familie sal ook gevra word om die liggaam formeel uit te ken.
Indien daar enige navrae is, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za