Ons dink dalk nie genoeg aan wat alles in orde en bymekaar moet wees by ons afsterwe nie.
Boonop het ons naasbestaandes selde insae in ons persoonlike dokumente en maak hulle staat op die toeganklikheid en beskikbaarheid daarvan wanneer ons nie meer self daar is om dit uit te wys of vir onsself te praat nie.
Dit is dus belangrik dat u ‘n vertroueling aanwys wat weet waar u persoonlike dokumente gehou word sodat die nodige reëlings na afloop van u afsterwe getref kan word.
Die belangrikste dokumente is sekerlik u testament, ‘n moontlike lewende wilsverklaring en wensbrief, wat enige onduidelikheid met betrekking tot ‘n onherstelbare siektetoestand, begrafnisreëlings, verassing, orgaanskenking, handeling met persoonlike en huishoudelike items, ens. aanspreek.
U genomineerde eksekuteur sal ook in u testament geïdentifiseer kan word en indien u eksekuteur nie self kan toesien tot die bereddering van u boedel nie, kan u eksekuteur ‘n agent wat bevoeg is om u boedel te beredder aanstel sodat die nodige gedoen kan word.
Dokumente wat nodig sal wees om u boedel te beredder is onder andere die volgende:
- U geldige, oorspronklik getekende testament en indien van toepassing, u lewende wilsverklaring en wensbrief;
- U oorspronklike ID dokument, huweliksertifikaat en indien van toepassing, u huweliksvoorwaardekontrak;
- Egskeidingsbevel en ooreenkoms indien van toepassing;
- Boedelbesonderhede van enige vooroorlede gades;
- Oorspronklike titelakte van elk van u vaste eiendomme waaroor daar nie verbande geregistreer is nie of waaroor die verbande in die Aktekantoor gekanselleer is;
- Oorspronklike motorvoertuigsertifikate indien daar geen huurkoop finansiering is nie;
- Oorspronklike vuurwapenlisensies;
- Oorspronklike aandeelsertifikate;
- Polis- en beleggingskedules, asook besonderhede van u bankrekeninge;
- Inkomstestate, huurkontrakte en moontlike finansiële state;
- Munisipale rekening(e) en besonderhede van alle skuldooreenkomste;
- U inkomstebelastingnommer en besonderhede van die persoon of instansie wat u SARS aangeleenthede hanteer;
- Enige ander inligting wat u eksekuteur/boedelberedderaar moet weet.
Indien u enige navrae het, kontak gerus vir Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za of Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za.