Daar ontstaan gereeld en uiteraard om verskeie redes behoefte dat ‘n Trustee moet bedank of meerdere Trustees verkies dat ‘n Mede-Trustee verwyder word.
Die prosesse wat gevolg moet word is egter nie so eenvoudig nie en indien die Trustee wat geskrap moet word, nie saamstem met die besluit van sy/haar Mede-Trustees nie, kan hierdie ‘n baie problematiese oefening raak.
Die agtergrond van die 2018 Hofsaak, Du Plessis NO en Andere vs Van Niekerk en Andere, was soos volg:
Die applikante, twee ouditeure en ‘n prokureur, is die Trustees van ‘n trust met ‘n dertigjarige vrou as die Trust se enigste inkomste- en kapitaalbegunstigde. Die eerste respondent is die moeder van die begunstigde en is/was ook ‘n Trustee. Die trusteiendom bestaan uit waardevolle landbougrond in die Knysna-omgewing.
Vroeg in 2018 is ‘n Trusteevergadering gehou. Die drie applikante was saam in een vertrek en die eerste respondent en haar prokureur is telefonies met mekaar verbind. ‘n Ernstige meningsverskil tussen die eerste respondent en die drie applikante het gevolg oor die betaling van rente aan die vader van die begunstigde wat ‘n uitstaande lening in die trust gehou het. Die pa boer op die landbougrond deur ‘n maatskappy en ‘n beslote korporasie, sonder om enige huur te betaal. Die eerste respondent was daarteen gekant dat die trust rente op die lening betaal. Die drie applikante het later, ná die vergadering, ‘n klousule uit die trustakte aangehaal, wat die volgende bepaal:
5.7 Die amp van ‘n TRUSTEE sal ontruim word indien – 5.7.4 die meerderheid TRUSTEES ‘n TRUSTEE versoek om te bedank.”
in ‘n poging om die Trusteeskap van die eerste respondent te beëindig.
Die applikante het in die hof aangevoer dat, omdat die liggaam van klousule 5.7 bepaal dat die amp ontruim SAL word indien die meerderheid Trustees die Trustee se bedanking versoek, niks verder nodig is nie en dat die Meester nuwe magtigingsbriewe kragtens artikel 6 van die Wet op Beheer oor Trustgoed moet uitreik. Die Meesterskantoor het egter geweier, wat tot die aansoek gelei het. Die Meester is as derde respondent aangehaal, maar het nie die aansoek geopponeer nie en het aangedui dat hy akkoord sal gaan met die hof se beslissing.
Die hof het bevind dat die verwydering van die eerste respondent as Trustee om vier redes ongeldig is:
- Die bedoeling van klousule 5.7 word bevraagteken deur die gebruik van die woord "versoek" in sub-klousule 5.7.4, wat die klousule dubbelsinnig maak. As die gewone betekenis daarvan gegee word, impliseer "versoek" dat die ontvanger van die versoek ‘n keuse het om tot die versoek gehoor te gee of nie. Dit kan ook nie wees dat enige sodanige versoek, hetsy redelik of nie, in die belang van die begunstigde of nie, daartoe moet lei dat die amp van daardie Trustee ontruim word nie;
- Goeie rede vir die verwydering van die Trustee moet as ‘n stilswyende bepaling van sub-klousule 5.7.4 beskou word. In hierdie saak was daar geen goeie motivering deur die applikante aangevoer nie en hul argument was dat hulle nie verplig is om redes vir hul besluit te verskaf nie;
- Die besluit om ‘n Trustee te versoek om te bedank moet een wees deur "’n goeie persoon wat redelik optree", en die applikante het geen bewyse of argumente aangevoer om dit te staaf nie; en
- Die applikante het ook nie ‘n behoorlike besluit geneem by ‘n Trusteevergadering met behoorlike kennis van hul voorneme nie.
Die hof het gevolglik die aansoek van die hand gewys.
Teen hierdie agtergrond is dit dus duidelik dat ‘n Trustee nie bloot verwyder kan word omdat dit die keuse van sy/haar Mede-Trustees is nie en indien daar dus nie goeie en geldige motivering is waarom ‘n Trustee uit sy amp onthef word nie, gaan die aansoek nie suksesvol wees nie.
Die feit dat die inhoud van ‘n oorgrote meerderheid van Trustaktes inderdaad bepaal dat ‘n Trustee moet bedank indien die meerderheid van sy/haar Mede-Trustees hom/haar versoek om te bedank, dra dus nie enige gesag nie.
Ons ondervinding is ook dat die Meesterskantoor nie ‘n Trustee sal verwyder deur bloot so ‘n besluit deur die Mede-Trustees aan hom voor te hou nie en sal die Meester steeds aandring op ‘n formele skriftelike bedanking deur die Trustee wat geskrap moet word.
Indien daar enige navrae is, kontak gerus vir Marius Vorster by mvorster@fhbc.co.za of Morné van Niekerk by morne@fhbc.co.za